Die Demokratiese Alliansie is verbind tot uitnemende dienslewering. Saam kan ons berge versit. The Democratic Alliance is committed to service excellence. Together we can move mountains. SAVE KOUGA. VOTE DA ON 18 MAY 2011

Click
here if you have any comments about the Democratic Alliance in the Jeffreys Bay region.

15 May, 2011

’n Morele plig by die stembus

Woensdag se verkiesing stel Suid-Afrikaners voor ’n keuse tussen een manier van regeer en ’n ander – ’n keuse so duidelik dat dit elke kieser se plig is om sy keuse te maak en sy kruisie te trek vir die een of die ander, in belang van ons geliefde land.

Die een manier van regeer is om korrupsie en wanbestuur te vergoeilik en ongestraf te laat. Die ander manier is om skoon oudits te kry en op te tree teen skelms.

Die een manier van regeer is om munisipale dienste te laat verswak tot satwordens toe, paaie vol slaggate te laat en riool in strate te laat afvloei sodat inwoners voel hulle moet die wet oortree en dienste self lewer. Die ander manier is om basiese dienste in stand te hou deur begrotings behoorlik te bestuur sodat die paar munisipaliteite wat jy bestuur, al is hulle klein, telkens die bes bestuurde in hul provinsie is.

Die een manier van regeer is om die magshebbers toe te rus met die blinkste motors, die gaafste huise en die beste byvoordele. Die ander manier is om die gordels stywer in te trek en meer geld te bestee aan dienslewering aan armes.

Die een manier van regeer is om, herhaaldelik en skaamteloos, te beweer God is ’n ondersteuner van jou party en jy sal tot die wederkoms regeer. Die ander manier is om kiesers te vra om jou hul stem te leen, die tydelikheid van jou mandaat te erken en so die reg van die kieser te erken om van gedagte te verander – om nie eens te praat van om jou nie aan te matig om namens God te praat nie.

Die een manier van ’n verkiesingsveldtog bedryf is om jou opponent persoonlik te beledig eerder as om voorbeelde van jou eie uitnemende bestuur te probeer beklemtoon. Die ander manier is om op jou eie goeie bestuursrekord te fokus en nie jou opponent te skel nie.

Die een manier van verkiesing veg is om die raskaart te trek, sekere bevolkingsgroepe af te dreig en mense te antagoniseer. Die ander is om te konsentreer op versoening deur nie-rassigheid sodat al ons kinders ’n gelyke kans kan hê, al swem dit teen die stroom van populisme en ons geskiedenis van verdeeldheid.

Woensdag is die dag om te kies tussen hierdie opsies.

Ons vertrou dat kiesers sal besef dis tyd om die een manier opsy te laat, en dis ons bede dat hulle in groot getalle die ander manier sal kies.

Uit: Rapport, 15 Mei 2010

No comments:

Post a Comment

Comment here
Lewer hier kommentaar