Die Demokratiese Alliansie is verbind tot uitnemende dienslewering. Saam kan ons berge versit. The Democratic Alliance is committed to service excellence. Together we can move mountains. SAVE KOUGA. VOTE DA ON 18 MAY 2011

Click
here if you have any comments about the Democratic Alliance in the Jeffreys Bay region.

25 May, 2011

Só het die DA die munisipale verkiesing in die Kouga verloor

‘n Skamele 430 ondersteuners van die Demokratiese Alliansie (DA) wat nie die moeite gedoen het om op 18 Mei in Kouga te gaan stem nie, het die beheer van die munsipaliteit op ‘n skinkbord aan die ANC gegee.

Die ANC het met 15 raadslede teenoor die 14 van die DA gewen. Die wegblyers kon die telling net mooi omgekeer het.

Die bepaling van die uitslag van die verkiesing is nie ‘n eenvoudige proses nie. ‘n Omslagtige berekening is nodig om by die finale “telling” te kom.

Dié berekening toon dat die ANC die verkiesing met 859 (sê 860) stemme gewen het. Elke kieser het twee stemme vir die Kouga-raad gehad - een vir ‘n wyksraadslid en een vir ‘n party. Vandaar die syfer van 430 wegblyers (860 ÷ 2) wat die DA die beheer van Kouga gekos het.

Daar was ‘n paar faktore wat die uitslag beïnvloed het.

• Wegblyers: ‘n Derde van die geregistreerde kiesers het nie gaan stem nie, ondanks waarskuwings deur die media en politieke partye dat elke stem tel. Daar was 51 400 geregistreerde kiesers. Hiervan het 35 200 gestem.

Die vraag is nou: waar was daardie 430 kiesers op stemdag wat die DA laat verloor het? Was dit oorgerustheid dat hul wyke veilig is? Of die lui-lekkerte van ‘n vakansiedag? Of gewoon luiheid? Of die weer? Die antwoord is waarskynlik iets van elkeen.

Die algehele stempersentasie van 68 persent is uitstekend vir ‘n munisipale verkiesing. Dit was nie goed genoeg nie in ‘n munisipaliteit waar die kiesers baie goed geweet het die uitslag was op ‘n mespunt.

Die verskoning van “niemand het ons kom besoek nie”, is ‘n onverskoonbare een.

• Werwing: In wyk 8 (Bo-Wavecrest), waar mnr Dave Aldendorff van die DA stof in sy opponente se oë geskop het, was die stempersentasie ‘n verstommende 82 persent. Hoekom het hý dit reggekry en nie die ander veilige DA-wyke nie? Dit is bekend dat mnr Aldendorff deeglike werwingswerk gedoen het.

Die twee ander veilige DA-wyke in Jeffreysbaai het onderpresteer. Dit het die DA ‘n hele klompie stemme gekos.

Altemit moes sommige DA-kandidate mnr Aldendorff se strategie gevolg het.

• Kleiner partye: Die Vryheidsfront Plus (VF+) en Kouga2000 (K20) se kandidate het onderskeidelik 526 en 486 stemme gekry. In sommige kringe word geredeneer dat dié twee partye se deelname die DA die verkiesing gekos het. Dat dié twee partye dit moeiliker vir die DA gemaak het, is gewis.

As hulle nie deelgeneem het nie, is dit nie te sê al hul ondersteuners sou vir die DA gestem het nie.

Dié partye kon voordat hulle kandidate gestel het meer bedag gewees het op wat in Kouga te wagte was. Hulle verdien ‘n vingerwysing, veral K20 wat nou graf toe is.

• Intimidasie: DA-politici het gekla oor initmidasie van kiesers in Swart- en Bruin-oorheersde gebiede. Die ANC het byvoorbeeld strate na stembusse in Pellsrus versper en kiesers aangespreek. Dit het die DA stemme gekos. Intimidasie is ‘n werklikheid van die Suid-Afrikaanse politiek. Dit sal vir baie jare by ons wees.

Die DA kon meer bedag gewees het hierop en teenvoeters gevind het.

Opsommend: die “kan-nie-worry”-wegblyers was die kernrede waarom die DA die Kouga-verkiesing verloor het, gevolg deur louerige DA-werwing in sommige wyke, gevolg deur die onbedagsame deelname van kleiner, onsuksesvolle partye. ‘n Duur les.

- Japie Bosch 

No comments:

Post a Comment

Comment here
Lewer hier kommentaar