Ons sal nooit ons reg opgee om die waarheid na te streef nie
In die jaar wat Winston Churchill die Geallieerdes in die Tweede Wêreldoorlog tot‘n oorwinning gelei het, en toe steeds die algemene verkiesing verloor het, het hy gesê dat: “Hulle elke reg het om my uit te skop. Dis demokrasie.”
Churchill was‘n slagoffer van die demokrasie wat hy tydens‘n Wêreldoorlog help beskerm het. Hy het steeds sy verkiesingsnederlaag bereidwillig aanvaar en bowenal getrou gebly aan demokratiese waardes.
Churchill het twee jaar later van uit die opposisiebanke in die Laerhuis sy beroemde toespraak aangaande demokrasie gelewer. Hy het gese dat demokrasie“die swakste soort regering is, behalwe al die ander wat van tyd tot tyd probeer is”.
Sowat sestig jaar later moet ons ook die beperkinge van demokrasie aanvaar. Ons weet dat dit nie die uitwissing of selfs verligting van armoede waarborg nie. Ons weet ook dat mense swak keuses kan maak wanneer hulle hul leiers kies.
Ondanks al sy gebreke het demokrasie egter die groot voordeel dat dit die mag in die mense se hande plaas. Dit is waarom demokrasie bo enige ander soort regering verkieslik is. Dit is waaroor die stryd teen Apartheid gegaan het. Slegs in‘n demokrasie is die politici vir die mense bang, in plaas van andersom. Slegs in‘n demokrasie kan die mense die regering uitskop.
Die kern van sukses van demokrasie bestaan uit die beginsels van oopheid en deursigtigheid. Sonder ’n vrye vloei van inligting, veral deur die vrye media, word magsmisbruik nie blootgelê, in toom gehou en gestraf nie. Die waarheid word toegesmeer. Die gevolg is dat mense nie ingeligte besluite kan neem nie, en hul leiers nie by die stembus verantwoordbaar kan hou nie. Dit beteken dat demokrasie kwyn en sterf.
Dit beteken nie dat die media altyd die regte dinge doen nie. Nie naastenby nie. As daar bewyse van valse of kwaadwillige verslaggewing is, moet daar herstelmiddels wees. Dit is waarom die media in die meeste demokrasieë geloofwaardige, onafhanklike meganismes erken as “waghonde oor die waghonde”. Geen regering moet egter enigiets met dié werksaamheid uit te waai hê nie, want dit is‘n volslae resep vir n geslote, outoritêre samelewing.
Dit is waarom elke demokrasie die grootste moontlike oopheid moet nastreef.
Nelson Mandela het die belangrikheid hiervan in 1994 besef. In ‘n toespraak voor die Internasionale Persinstituut se Kongres het hy gesê: “Geen enkele persoon, geen meningsgroep, geen politieke of godsdienstige leer, geen politieke party of regering, kan beweer dat hy die monopolie op die waarheid het nie ... Dit was dus nog altyd ons betoog dat wette, sedes, praktyke en vooroordele wat beperkings op vryheid van uitdrukking plaas, die samelewing ‘n onreg aandoen.”
In dieselfde toespraak het hy gesê:
“Ek het dikwels gesê die media is‘n spieël waarin ons onsself kan sien soos ander ons sien, met al ons foute en onvolmaakthede. Die ANC vrees geen kritiek nie. Ek kan julle belowe dat ons nie voor die strengste ondersoek sal verwelk nie. Dit is ons oorwoë mening dat sulke kritiek ons bloot sal help om te groei, deur die aandag te vestig op al ons dade en versuime wat nie voldoen aan ons mense se verwagtinge en die demokratiese waardes waaraan ons glo nie.”
Twee weke gelede, op Mandeladag, het ek geskryf oor die ironie daarin oor hoe meer die ANC van Nelson Mandela se visie afwyk, hoe meer wil die organisasie die man se erfenis besit. Die huidige ANC-leiers se afwyking van Nelson Mandela se visie word sterk benadruk deur hul houding teenoor persvryheid.
In ‘n ANC-besprekingstuk oor die media wat enkele dae gelede bekend gemaak is, maak die party ‘n saak uit vir die skepping van‘n Parlementêre mediatribunaal wat die pers tot verantwoording moet roep. Die ANC spreek die kommer uit dat “sommige faksies van die media steeds ‘n houding teenoor transformasie, ontwikkeling en die ANC inneem”.
Wat het geword van Mandela se oortuiging dat beperkings op die vryheid van uitdrukking die samelewing ‘n onreg aandoen? En wat het met die ANC gebeur wat eens heel trots beweer het dat hy geen kritiek vrees nie?
Daardie ANC bestaan lankal nie meer nie. Die huidige ANC wil kritici se monde snoer en sy weergawe van die werklikheid as “die enigste waarheid” aanbied.
Die ANC wil die onafhanklike media deur ‘n Parlementêre mediatribunaal (vol gepak met ANC-LPs) beheer. ’n Gedienstige media sal die onvermydelike gevolg hiervan wees. Dié sal hierdie jurie van politici met ‘n sterk belang daarin om die media in toom te hou, probeer paai. Die onvermydelike gevolg sal wees dat al ons nuus sal soos dié wat ons gereeld op die SABC-TV sien sal lyk. Die SABC is nou soos ‘n party-uitsaaier eerder as‘n openbare uitsaaier.
Dis selfs erger dat die ANC se aanslag op persvryheid ondersoekende joernalisme probeer kriminaliseer. Indien die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting aanvaar word, sal dit sulke ondersoekende joernalisme kriminaliseer. Dit sal ‘n strafbare misdaad wees (met tot 25 jaar tronkstraf) om in besit van geklassifiseerde staatsinligting te wees. Enige staatsinligting sal geklassifiseerd wees indien (na ‘n politikus se oordeel) die onthulling daarvan teenstrydig teenoor die “nasionale belang” geag word. Dít word omskryf as alle aangeleenthede “wat verband hou met die bevordering van die openbare welsyn” ,“die navolging van geregtigheid, demokrasie, ekonomiese groei, vryhandel,‘n stabiele monetêre stelsel en gesonde internasionale betrekkinge”, asook “alle entiteite wat die staat namens die publiek in stand hou”.
Feitlik alle staatsinligting sal met ander woorde vir joernaliste en enigiemand met ‘n belang in die waarheid ontoeganklik word. Net soos in die Apartheidsera sal die regering hom op die “nasionale belang” beroep om alle magsmisbruik toe te smeer. Elke dokument met bewyse van korrupsie sal byvoorbeeld onmiddellik geklassifiseer word – waarskynlik deur die skuldige party in die regering!
Die “nasionale belang” moet nooit met die openbare belang verwar word nie. Die media-ontleder, Tawana Kupe, het opgemerk dat die nasionale belang bestaan uit “die belange en waardes wat bepaalde groepe hulself toegeëien het terwyl hulle probeer om alles in ‘n samelewing te oorheers”. Daarenteen strek die openbare belang “breër as die nasionale belang, omdat dit die waardes wat geen enkele maatskaplike organisasie óf individue óf entiteit as sy alleenbesit kan toeëien nie, aanspreek en weerspieël”.
Uit Mandela se toespraak wat hierbo aangehaal is, is dit duidelik dat hy sterk van dié onderskeid bewus was. Hy het geweet die belange van die party (“nasionale belang”) en die belange van die mense (“openbare belang”) is nie dieselfde nie. Daarenteen dink die Jacob Zuma se ANC dat hulle dieselfde is. Dit kom duidelik na vore vanuit die ANC se besprekingsdokument oor die media.
Die dokument beweer dat die ANC se besluite tydens sy Polokwane-konferensie “die mense se menings uitdruk” en dat dié opvattings “nie die dinge is wat koerante verkoop en die nuus haal nie, maar dít wat die mense wil hê”. Verder noem die dokument dat: “Ons moet beheer neem om te sorg dat hulle die nasionale diskoers oorheers en dat ons stem duidelik bo die res hoorbaar is.”
Dit is ‘n rooi gevaarsone vir ons demokrasie. Elke totalitêre bewind – van Hitler tot Stalin tot Mao – het beweer die Party vergestalt die wil van die mense, en het dit gebruik om die demokratiese ruimte te vereng, met inbegrip van‘n beperking op mediavryheid,‘n verbod op politieke partye en die uiteindelike onderdrukking van politieke teenstand.
Dit is tyd dat meer mense besef dié neiging is in Jacob Zuma se ANC sterk en lewend. Jackson Mthembu, die ANC se woordvoerder, het dit duidelik gemaak toe hy probeer het om die voorgestelde mediatribunaal teenoor joernaliste te regverdig:“As jy tronk toe moet gaan, laat dit so wees. As jy miljoene weens laster moet betaal, laat dit so wees. As joernaliste in die pad gesteek moet word omdat hulle nie bydra tot die Suid-Afrika wat ons wil hê nie, laat dit so wees.”
Ons sal elke middel tot ons beskikking inspan om ons land en demokrasie teen die ANC se aanslag te beskerm. Indien nodig, sal ons die stryd selfs in die Grondwetlike Hof moet voer. Ons sal nie toelaat dat‘n outoritêre wet ons daarvan weerhou om magsmisbruik bloot te lê waar dit ook al voorkom nie. Ons sal eerder tronk toe gaan om die waarheid na te streef as om aan die verval van demokrasie aandadig te wees. Ons sal ons reg opgee om die waarheid na te streef nie.
Click here to read the English version:
http://www.da.org.za/newsroom.htm?action=view-news-item&id=8538
No comments:
Post a Comment
Comment here
Lewer hier kommentaar