Suksesvolle en produktiewe grondhervorming is moontlik in Suid-Afrika
Die “spitsberade” wat orals in die land deur die regering nou aangebied word, is die duidelikste teken dat die ANC met sy 2011 verkiesingsveldtog begin het.
Die regering se inisiatiewe behoort niks met die ANC se verkiesingsveldtog te doen hê nie. Maar, in die een verkiesing na die ander, word miljoene rande se staatsgeld misbruik om die ANC se veldtog te bevorder.
Die onlangse sogenaamde “Plaaswerkerspitsberaad” in die Wes-Kaap is ’n klinkklare voorbeeld. Dit was ’n nouliks verdoeselde politieke saamtrek (wat belastingbetalers meer as R10 miljoen gekos het), ewe met pres. Zuma wat dans en Awuleth’ Umshini Wami sing.
Boonop het die ANC die DA se beleid vir die doeleindes van politieke propaganda heeltemal verdraai.
Ek is genooi om die Plaaswerkerspitsberaad te open, en het dit in goeder trou gedoen. Ek het die geleentheid benut om ’n beroep op die President te doen om weer grondeienaarskap deur middel van ‘n aandelebesitskema in te stel.
Dié skemas het in die Wes-Kaap vir sowel boere as werkers goed gewerk – tot die nasionale regering hulle in Augustus verlede jaar met ’n ‘moratorium’ gestuit het.
Dit is waar dat sulke skemas nét in die Wes-Kaap goed gewerk het (met uitsondering van ‘n paar geisoleerde gevalle). Maar , soos gewoonlik is die regering nou besig om sukses te straf om sy eie mislukking te verdoesel.
Sodoende het hy die enigste grondhervormingsprogram met positiewe resultate vernietig, terwyl hy voortgaan met dié wat net negatiewe resultate oplewer.
Die aandeelhouding skemas wat ons steun, werk in wese só:
Wanneer ’n boer ’n plaas wil verkoop (of ’n nuwe een wil koop), het hy die keuse om dit deur middel van ’n aandelebesitskema te doen. Ingevolge dié skema kan plaaswerkers ’n persentasie van die plaas koop. Hulle betaal daarvoor deur die toewysing van staatsgeld vir die doel van grondhervorming te benut. Daar kan oor aandelebesitskemas in verskillende verhoudings onderhandel word, maar ons het agtergekom die skema werk die beste as risiko en beloning in die helfte gedeel word. Ons skryf egter geen verhouding voor nie. Dit is heeltemal afhangend van die verskillende partye en die omstandighede waarin hulle hulself bevind. Só het sommige boere ’n buurplaas saam met die plaaswerkers gekoop. Dit brei die boerderybedrywighede uit en bemagtig die werkers werklik om medebesitters van ’n plaas te word.
Só staan marginale boerderybedrywighede ’n kans om lewensvatbaar te word. Dit veroorsaak dat arm mense aandele in die landbou sektor kan kry, terwyl kommersiële boere betrokke en verbind bly – ‘n belangrike element om die sukses van grondhervormings inisiatiewe te verseker. Grondhervorming word so die basis van nuwe beleggings en grondwaardes in die plattelandse ekonomie, eerder as die oorsaak van mislukte plase en die verdere vervreemding van sogenaamde “bevoordeeldes” in die klugtige kringloop van vervalling wat grondherverming in Suid-Afrika karaktiseer.
Die DA se benadering tot grondhervorming is een van ware bemagtiging. Dit brei geleenthede uit en sorg vir meer produktiwiteit. Dit beskerm besitreg en die markbeginsel van gewillige koper, gewillige verkoper. Daar is gewoonlik positiewe gevolge wat op goeie bestuur en gesonde boerderypraktyke gegrond is. Dit skep meer sukses in plaas van mislukking.
Dit is waarom dit in ons opponente se belang is om ons model te verwring.
Dit het by die Plaaswerkerspitsberaad gebeur toe die ANC beweer het ons is van plan is om alle plase in die helfte op te deel en dan om 50% weg te gee! Hulle het dit gedoen wel wetende dat hy luide protes gaan ontketen as hy dié leuen versprei. Dit was mos sy politieke motief.
Ons sal egter steeds die waarheid oor die welslae met die Wes-Kaap se skemas verkondig, want alle redelike mense verstaan dat ons grondhervorming met stygende produktiwiteit moet kombineer in die landbou sektor. Tot dusver was daar 83 aandelebesitskemas waarby 10 000 plaaswerkers baat. Een van die suksesvolste voorbeelde van só ’n skema is by Langrivier naby Ceres in die Wes-Kaap waar 242 plaaswerkers in 2008 mede-eienaars van die gesamentlike-ondernemingsmaatskappy geword het. Bo en behalwe ’n aandeel in die maatskappy se wins, het die plaaswerkers daar ’n bewaarskool vir hul kinders en toegang tot ’n fonds vir hul kinders se opvoeding en verdere opleiding vir hulself.
Gevolglik het werkers op die plaas tot bestuursposte gevorder. Sommige dien nou in die maatskappy se direksie.
Dié onderneming het geslaag omdat dit besit versprei, risiko en beloning deel, en die kundigheid en ervaring van sowel die boer as die plaaswerkers saamsnoer.
Dit is waar dat nie alle aandelebesitskemas geslaag het nie. Dit is egter ewe waar dat hul slaagsyfer baie hoër is as dié van plase wat geheel en al in werkers se besit is wat nie die voordele het van ’n vennootskap met ’n boer met ondervinding wat die bestuur van ’n suksesvolle agri-onderneming betref.
Die meeste plase in volle besit van “ontluikende boere” is trouens in tamatiestraat. Net vier maande gelede het Minister Gugile Nkwinti in die Parlement erken dat 90% van die 5,9 miljoen hektaar grond wat die staat vir ontluikende boere gekoop het, nie produktief is nie. En verlede jaar het die nasionale regering belowe om 283 insolvente ontluikende boere wat die Landbank R232 miljoen skuld, te red.
Die ANC se model is nie grondhervorming nie. Dit vernietig Suid-Afrika se landbouproduksie. Dit brei grondbesit nie betekenisvol uit nie, en bemagtig plaaswerkers beslis nie. Dit vernietig ekonomiese waarde en die verwagtinge van arm mense net soos wat die Apartheidsregering se beperkinge op ekonomiese eienaarskap en geleenthede gedoen het.
Ons verwerp die ANC se model, naamlik om boere van hul produktiewe grond te stroop, geheel en al. Ons wil goeie boerderypraktyke na so veel plase as moontlik uitbrei en plaaswerkers deur grondbesit bemagtig. Ons wil ook aansporings skep om landbou-uitsette en voedselproduksie te verhoog.
Dit is waarom ons aandelebesitskemas steun. Die vraag is: waarom is hulle gestuit?
Ons glo die antwoord is polities. Die ANC besef die stembus-koste van ’n DA-regering wat verbind word met ’n suksesvolle program vir SEB met ’n breë grondslag, en grondhervorming wat almal baat. Die ANC kan dit veral nie duld dat dit in die Wes-Kaap gebeur terwyl hulle model dan in ander provinsies misluk.
Die DA sal steeds vir aandelebesitskemas bly baklei, so lank sulke skemas vrywillig moet wees, staatsubsidies aan plaaswerkers beskikbaar gestel moet word om aandele te koop, en dat daar veiligheidsmaatreëls moet wees om te sorg dat plaaswerkers nie uitgebuit word nie. Dié skemas moet sorg dat almal wen, en moet volhoubaar en produktief wees. As daar tekortkominge bestaan in die oorspronklike ontwerp, moet dit reggestel word deur maatreëls wat verstaanbaar, bekostikbaar en prakties is.
Ek het dus, in my hoedanigheid as Premier, gevra vir ‘n studie van die vertoning van al 83 aandelebesitskemas in die Wes-Kaap wat deur die Provinsiale departement van Landbou uitgevoer gaan word. Dit sal bepaal waarom suksesvolle skemas slaag, waarom sommiges misluk het, en hoe ons hulle kan verbeter. Ons sal die bevindings aan die nasionale regering voorlê sodra die navorsing afgehandel is.
Ek hoop dié wisselwerking met die nasionale regering, in ’n gees van samewerkende landsbestuur, sal in ’n volwasse en volhoubare benadering tot grondhervorming uitloop, en dat aandelebesitskemas as ’n sleutelmodel orals in die land herhaal sal word. Ons glo die staat moet die inisiatief neem deur goeie en gewillige boere te soek om by gesamentlike- ondernemingsmaatskappye betrokke te raak, in plaas daarvan om te wag dat hulle gebeur. Maar die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper moet behoue bly.
Die ANC moet verstaan dat ontwikkeling nie ’n nulsomspel is nie. Een persoon se geleentheid hoef nie ten koste van iemand anders s’n te wees nie. Inteendeel. Soos die voorbeeld van die Langrivier aandelebesit bewys, kan ’n geleentheid wat deeglik benut word, geleenthede vermenigvuldig. Dít is die insig wat die sleutel tot Suid-Afrika se welslae en welvaart in die toekoms hou.
Wanneer grondhervorming ter sprake kom, verkies die regering om die boere die skuld te gee, in plaas daarvan om verantwoordelikheid vir sy eie onbevoegdheid te aanvaar. Die ANC weet dat dit makliker is om boere as sondebokke uit te wys as om die steun van landelike mense, op grond van suksesvolle grondhervorming wat sowel boere as werkers baat, te verkry.
Dit is wat die DA wil doen, en waarom die ANC vasberade is om ons te stuit.
Click here to read the English text: http://www.da.org.za/newsroom.htm?action=view-news-item&id=8552
No comments:
Post a Comment
Comment here
Lewer hier kommentaar