Die Demokratiese Alliansie is verbind tot uitnemende dienslewering. Saam kan ons berge versit. The Democratic Alliance is committed to service excellence. Together we can move mountains. SAVE KOUGA. VOTE DA ON 18 MAY 2011

Click
here if you have any comments about the Democratic Alliance in the Jeffreys Bay region.

Politieke beginsels/Political principles

1 VISIE


1.1 Inleiding

Die DA se visie is van 'n welvarende Oop Geleentheidsamelewing wat uniek Suid-Afrikaans is; waarin elke persoon vry, veilig en voor die reg gelyk is; en waarin elkeen die middele het om sy lewensgehalte te verbeter en haar eie aspirasies na te streef.


1.2 Ons visie berus op die oortuiging dat

1.2.1 Suid-Afrikaners die historiese ras- en etnisiteit-verdelings moet en kan oorbrug, en in ons uiteenlopendheid rondom 'n gedeelde Suid-Afrikaanse identiteit moet saamstaan;

1.2.2 alle Suid-Afrikaners gelyke waarde het, en 'n reg op volle deelname in die lewe van ons gemeenskaplike Suid-Afrikaanse samelewing het;

1.2.3 Suid-Afrika se grondwet die enigste fondament is waarop 'n Oop Geleentheidsamelewing gebou kan word, want dit erken dat elke persoon in waardigheid en waarde gelyk is, en waarborg die vryheid van elke individu;

1.2.4 die regte wat in die grondwet verskans is, verdedig en bevorder moet word om Suid-Afrika se mense teen die konsentrasie en misbruik van mag te beskerm;

1.2.5 'n onafhanklike en doeltreffende opposisie wat aan die grondwetlike bestel lojaal is, vir die bevordering en beskerming van demokrasie en vryheid in ons land noodsaaklik is;

1.2.6 'n onafhanklike en lewenskragtige burgery noodsaaklik is om 'n oop samelewing te bewaar, want dit dien as 'n skans teen enige poging deur die staat of die regerende party om 'n gedagte- en waarheid-allesoorheersing op die samelewing af te dwing;

1.2.7 die waardigheid van elke persoon, en die vryhede wat in die grondwet verskans is, nie ten volle verwesenlik kan word tensy almal die middele het om sy eie geluk of haar lewensgehalte te verbeter nie. Gevolglik moet die skepping van betekenisvolle geleenthede op elke vlak die middelpunt van regeringsprogramme uitmaak;

1.2.8 die krag wat elke samelewing se groter welvaart stu, 'n maatskaplik en omgewings-verantwoordelike vryeondernemingsekonomie is wat deur keuses, risiko's en harde werk aangedryf word. Sonder die groter welvaart wat die werking van die mark-ekonomie skep, kan daar geen geleentheid wees nie, verloor vryheid sy doel, en raak keuses al hoe meer beperk;

1.2.9 niemand in 'n geleentheidsamelewing agtergelaat moet word nie. Die regering moet dus toegang tot onderwys en opleiding voorsien, en die progressiewe bevordering van toegang tot betaansveiligheid, behuising en gesondheidsorg bied vir diƩ wat sonder enige eie skuld nie vir hulself kan sorg nie.


1.3 Ons visie berus op die verdediging, bevordering en uitbreiding van

1.3.1 die fundamentele regte en vryhede van elke persoon – onder meer die reg op vryheid van gewete, spraak, assosiasie en beweging;

1.3.2 die verwerping van onbillike diskriminasie op enige gronde;

1.3.3 die oppergesag van die Suid-Afrikaanse grondwet en van die reg;

1.3.4 die taal-, kultuur- en geloofsregte van individue en die gemeenskappe wat hulle deur vrye assosiasie skep;

1.3.5 gelykheid voor die reg;

1.3.6 die skeiding van wetgewende, uitvoerende en regterlike mag;

1.3.7 'n onafhanklike regbank;

1.3.8 gereelde, vrye en regverdige verkiesings;

1.3.9 verteenwoordigende en toerekenbare regering wat op die grondslag van universele volwasse stemreg verkies word;

1.3.10 die afwenteling van mag om die regering so na as moontlik aan die mense te plaas;

1.3.11 'n duidelike onderskeid tussen die regerende party en die staat;

1.3.12 respek vir die regte van 'n lewenskragtige burgery en 'n vrye media om onafhanklik op te tree;

1.3.13 die verwerping van geweld en intimidasie as 'n politieke werktuig;

1.3.14 die reg van alle mense op private besit en om vryelik aan die mark-ekonomie deel te neem;

1.3.15 die progressiewe verwerkliking van toegang tot behuising, gesondheidsdienste en bestaansveiligheid vir alle mense wat hulself nie kan help nie;

1.3.16 die beskerming en bewaring van die omgewing;

1.3.17 die reg van alle mense op die staat se beskerming teen misdaad en geweld;

1.3.18 toegang tot onderwys en opleiding.


2 MISSIE
As 'n trotse Suid-Afrikaner wat aan die grondwet lojaal is, verbind ek my daartoe om my land se mense met integriteit te dien deur 'n party te bou wat vir alle Suid-Afrikaners 'n tuiste is, wat 'n sigbare verskil aan ons mense se lewens maak, en 'n Oop Geleentheidsamelewing bevorder waarin elke persoon vry, veilig, en voor die reg gelyk is, en die middele het om sy of haar lewensgehalte te verbeter.