Die Demokratiese Alliansie is verbind tot uitnemende dienslewering. Saam kan ons berge versit. The Democratic Alliance is committed to service excellence. Together we can move mountains. SAVE KOUGA. VOTE DA ON 18 MAY 2011

Click
here if you have any comments about the Democratic Alliance in the Jeffreys Bay region.

08 March, 2011

Die Suid-Afrikaanse politieke toneel is aan’t verander

Christi van der Westhuizen vra: "Jy kan Afrikaners uit apartheid haal, maar kan jy apartheid uit Afrikaners haal?" Van der Westhuizen is die skrywer van die boek White power and the rise and fall of the National Party (2007. Kaapstad: Zebra Press).

Sy skryf: "Dit is die destabilisering van wit identiteit ná die veranderings van 1994 wat Afrikaners laat vervreemd voel eerder as die ANC se sogenaamde harde Afro-nasionalisme."

Dié vervreemding, sê sy, kan toegeskryf kan word aan die feit dat die eksklusiewe, rasgebaseerde politieke mag van weleer vervang is deur 'n "volksvreemde stelsel van ['n breë] demokrasie, gerugsteun deur die ewe volksvreemde idee van ... ras- en geslagsgelykheid".

Wat gevolg het was die wydverspreide onttrekking van die Afrikaner aan die "nuwe" politieke en maatskaplike realiteite as 'n groepstrategie om wit Afrikaner-identiteit te probeer verskans; dis 'n vorm van ontkenning van die werklike historiese en huidige realiteite, want "dit is hoe fantasieë van wit meerderwaardigheid en bevoorregting in stand gehou word". Klik hier en lees ook "Inwaartse emigrasie"

Dit manifesteer, onder andere, in 'n diepliggende onverdraagsaamheid teenoor allerhande werklike en gewaande "euwels". 'n Klinkklare voorbeeld hiervan is Deon Maas se sogenaamde godslasterlike artikel in 'n onlangse uitgawe van Rapport wat die Christen-fundamentaliste onder ons laat stik het van verontwaardiging. Maas het dit durf waag om te beweer dat sataniste die reg onder die SA grondwet het om die duiwel te aanbid.

Nou, ek was nog nooit 'n stoere Afrikaner-nasionalis of ‘n Christen-fundamentalis nie en nog minder hang ek my geloofsake aan die groot klok. Ek kan dus nie juis identifiseer met dié soort histeriese tjol nie. Nogtans vind ek dit moeilik op my oudag vir my wit alie 'n nis in die hedendaagse politieke en maatskaplike bestel te vind en betrap ek my kort-kort dat ek inwaarts emigreer!

Madiba, bless his kind soul, het dit destyds veel makliker vir ons wittes gemaak as Mbeki en sy Afro-nasionaliste, en Zuma en sy populistiese politiek.

Van der Westhuizen dui vir wit Suid-Afrikaners die pad vorentoe aan: "Vir die ouer geslag was Afrikaner-nasionalisme 'n dwangbuis waaruit ons almal nou ontsnap het. Waar apartheid 'n geslote stelsel was met 'n rigiede inperking van ons liggaam en gees, bied die hedendaagse erkenning van ons regte en ons gelyke burgerskap veelvlakkige ruimtes waarin ons as mense tot ons reg kan kom. Die vraag dus aan alle Afrikaners is: Het ons die moed om hierdie potensialiteite met al hul onsekerhede aan te gryp en 'n volwaardige Suid-Afrikanerskap vir onsself uit te kerf?"

Dalk is ons stadig maar seker besig om ons weg uit die kokon van vooroordeel en gekoesterde bevoorregting te vind; “om ‘n volwaardige Suid-Afrikanerskap vir onsself uit te kerf”.

Volgens Die Burger se rubriekskrywer, Dawie, gebeur interessante dinge deesdae in die Suid-Afrikaanse politiek, dinge wat betreklik onlangs nog ondenkbaar sou gewees het.

“Om mee te begin,” skryf hy, “die meeste Afrikaners het hulle sedert die verkiesing van 1999 agter die Demokratiese Alliansie (DA) geskaar. Die DA is die opvolger van die Progressiewe Federale Party, wat as die ergste parlementêre vyand van die van die ou Nasionale Party (‘n oorwegend Afrikaner-party) gereken is.”

“Ten tweede,” skryf hy voorts, “het die meeste Afrikaners ‘n Jood, mnr. Tony Leon, as hul leier aanvaar. Later het dieselfde Afrikaners ‘n vrou, me. Helen Zille, as hul leier aanvaar – ‘n vrou wat eweneens van Joodse afkoms is.”

Nog is het einde niet. Dawie vervolg: “Die kersie wat ook [mettertyd] op die koek geplaas is, is dat die meeste Afrikaners ook ‘n vrou, me. Sandra Botha, as parlementêre leier aanvaar het. Botha is weliswaar ‘n Afrikaner, en in teenstelling met ander, nie skaam om dit te erken nie, maar sy beskryf haarself as ‘n “liberale” Afrikaner. Wie onthou nog hoe liberale Afrikaners net ‘n dekade of twee, drie gelede deur die Afrikaner-wagters op Sionsmure as die laagste vorm van lewe beskou is.” In sekere kringe is hulle as pienk Afrikaners uitgekryt!

Ten slotte: “In ‘n baie kort tyd is die belangrikste heilige koeie van die Afrikanerdom dus op hul kop gekeer. Die Afrikaners moes aanvaar dat hulle nie meer baas van die Suid-Afrikaanse plaas is nie, dat Jode én Engelssprekendes leiers is van die party wat die meeste van hulle steun, dat hulle macho-houding van die verlede uitgedien is en dat die vroulike Joodse leiers deur liberale Afrikaners bygestaan word – alles dinge wat nie so lank gelede nie min of meer heiligskennis was.”

Wat is die volgende fase van hierdie proses? ‘n Politieke herskikking waarin “blanke” politieke partye irrelevant raak en die totale bevolking verdeel in ‘n hoofsaaklik linkse groepering aan die een kant en mense met meer gematigde politieke sienings aan die ander kant? Hoogs waarskynlik. Prof. Willie Esterhuise, van die Universiteit van Stellenbosch, meen dat hierdie herskikking hom binne die volgende tien jaar kan voltrek. Alhoewel oudpresident F W de Klerk nie ‘n tydsbeperking op die proses plaas nie, stem hy saam met prof. Esterhuise en stel ‘n “taamlike sentrumparty of net links van die sentrum en die ander ‘n verlinkse arbeidersparty” in die vooruitsig.

Barry Vosloo

No comments:

Post a Comment

Comment here
Lewer hier kommentaar