Baie wit mense sukkel ná sewentien jaar van volwaardige demokrasie om vir hulle ‘n geestelike staanplek/lêplek in die “nuwe” Suid-Afrika te vind.
'n Interessante artikel oor Suid-Afrikaners se "inwaartse emigrasie" het in 2007 in Die Burger verskyn en is deur Willem Jordaan geskryf. Jordaan is die politieke redakteur van Die Burger.
Jordaan beweer dat die eerste tekens van inwaartse emigrasie vroeg in die vestiging van 'n demokratiese Suid-Afrika by wit mense merkbaar geraak het. Dit is veroorsaak en word tans aangehelp deur ergerlikheid oor die verlies van mag en bevoorregting, en 'n gevoel van vervreemding wat vererger word deur daaglikse dosisse geweld, gebrekkige dienslewering, nepotisme, korrupsie en wanbestuur. Hy meen die belangrikste algemene teken hiervan (die inwaartse emigrasie) is die onvermoë – of onwilligheid – by wit mense "om 'n ingeligte, kritiese meelewing met die kompleksiteit van 'n multikulturele SA en sy ontwikkelingsprobleme te ontwikkel". Voorts gee hy voorbeelde van tipiese gedragspatrone wat hieruit voortspruit.
Die eerste voorbeeld is dat ouer mense persoonlike ontberings en samelewingsellendes summier aan 'n onbevoegde, arrogante en magsbehepte swart owerheid toedig. Dit is dan ook die tema van talle briewe aan koerante, praatprogramme oor die radio en vleisbraaigesprekke. Hierdie mense leef in 'n toestand van negatiewe energie wat hulle neerslagtigheid voed. Hulle verval gevolglik in 'n "eskalerende spiraal van toenemende siniese apatie, gegriefdheid, klaagliedere, magteloosheid, onderliggende angsgevoelens en wanhopigheid", en vind hulle vervulling en identiteit in die vestiging van "klein eilandjies van geluksaligheid" soos die familiekring, besittings, stokperdjies en bekende kuierplekke.
Die tweede manifestasie van inwaartse emigrasie, sê hy, is te vinde by jonger mense wat hulle identiteit en lewensvervulling vind op die markplein. Hulle aanvaar die "nuwe stelsel" en probeer op opportunistiese maniere om dit vir eie gewin aan te wend. "Buite dié domein van geld verdien en nog meer geld maak, maak niks eintlik saak nie. Hulle eksploiteer alles wat hulle geldgedrewe lewenstyl in stand sal hou."
Die oplossing wat hy aan die hand doen is om die samelewing en die gemeenskap waarvan jy deel is "te omarm en krities deel te neem aan die werklik lewegewende prosesse ... "
Dit laat 'n mens dink, né?
Barry Vosloo
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment
Comment here
Lewer hier kommentaar