2011-03-26 00:13
Die sfinksagtige stilte waarmee pres. Jacob Zuma gebeure gadegeslaan het toe ’n groep oproerige ANC-ondersteuners vandeesweek me. Patricia de Lille uitgejou het, spreek meer as duisend woorde oor die ANC.
Hoekom het Zuma sy mond gehou toe hy eintlik ’n ware president moes wees deur die skare tot orde te roep? Dawie kan aan twee moontlike verklarings dink.
Die eerste is dat Zuma heimlik op die verhoog gesit en lekker kry het toe De Lille, die waarnemende premier, se toespraak deur die uitjouery gedwarsboom is.
“Dis haar verdiende loon,” kon Zuma dalk by homself gedink het. “Dis wat jy moet verwag as jy jou kooi saam met die DA wil opmaak.”
Dít, reken Dawie, is ongelukkig die minder waarskynlike verklaring van die twee. Die ware rede vir Zuma se stilte is ook veel kommerwekkender as ’n oomblik van politieke nydigheid. Die waarheid is dat Zuma gewéét het wat die regte ding is om te doen.
Hy het ook gewéét dat indien hy niks doen nie, daar vir hom ’n verleentheid sou wag.
Hy het gewéét van die kritiek wat sou kom, wat die mense, politieke partye en geloofsorganisasies sou sê.
Feit is egter dat dié moontlike verleentheid vir hom die meer verteerbare een was. Die véél groter verleentheid sou wees om op te staan, die skare te probeer stilkry, en dat niemand dan op hom ag slaan nie.
Feit is Zuma was in sy hart nie oortuig dat die mense na hom sou luister nie. Hy kon eenvoudig nie die risiko loop dat die wêreld sien hy het nie meer volle beheer oor sy eie organisasie nie.
Lees verder: Dawie, Die Burger
No comments:
Post a Comment
Comment here
Lewer hier kommentaar