Die Demokratiese Alliansie is verbind tot uitnemende dienslewering. Saam kan ons berge versit. The Democratic Alliance is committed to service excellence. Together we can move mountains. SAVE KOUGA. VOTE DA ON 18 MAY 2011

Click
here if you have any comments about the Democratic Alliance in the Jeffreys Bay region.

27 September, 2010

Helen se weeklikse nuusbrief - 27 September 2010

ANC se vrese bewys dat ons demokrasie volwasse word

(Click on http://www.da.org.za/newsroom.htm?action=view-news-item&id=8735 to read the English text)

Ons vier vandag (24 September) Erfenisdag. Ek weet baie van ons gaan met ons geliefdes om ’n braai ontspan. Ek hoop baie van ons sal ook die ryk tapisserie van ons unieke Suid-Afrikaanse kultuur gedenk.

Ek gaan die dag met lede van die DA-familie in George deurbring waar ons ons gedeelde uiteenlopendheid (’n heerlik Suid-Afrikaanse oksimoron) gaan vier. Sodoende gaan ons hulde bring aan almal wat gehelp het om ons nasie te maak wat hy vandag is.

Ek praat nie net van die politieke en geloofsleiers wat die nuwe Suid-Afrika geskep het nie. Ons staan inderdaad op die skouers van reuse, maar dit is ewe waar dat ons nie vandag hier sou gewees het as dit nie vir Suid-Afrika se mense was nie.

Suid-Afrika se mense het tot vreedsame onderhandeling ingestem, eerder as rasse-geweld en -vergelding. Die mense het ’n nie-rassige demokrasie aanvaar. Die mense het ingestem tot die finale Grondwet wat regte vir almal gewaarborg het.

Terwyl ons voortgaan met die reis wat op 2 Februarie 1990 begin het, moet ons onthou dit is die mense, en nie die politici nie, wat die mag het om die toekoms te skep wat hulle wil hê. Dit is waarom ’n demokrasie draai.

Die sukses van ons demokrasie hang daarvan af dat mense dit moet verstaan. Demokrasie is sonder enige betekenis as mense nie besef hulle het die mag om hul leiers tot verantwoording te roep, en hul omstandighede deur middel van die stembus te verander nie.

Die probleem is dat baie mense daarbuite dink ’n politieke party is soos ’n sokkerspan – dat jy deur dik en dun lojaal moet bly.

Die teenoorgestelde is eintlik waar. Wanneer ’n politieke party korrup is, en beleid voorstaan wat na ’n mislukte staat gaan lei, het mense nie net die reg om by die stembus ’n ingeligte keuse te maak nie, maar die verantwoordelikheid om dit te doen. Ons noem dit toerekenbaarheid.

Daarsonder is ’n diktatorskap die gevolg.

Ek het dit al tevore gesê: In ’n demokrasie moet die politici vir die kiesers bang wees, en nie andersom nie.

Daar is baie tekens dat ons demokrasie op die verkeerde pad is. As die ANC sy sin kry en die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting aanvaar, sal mense die regering oplaas meer vrees as wat die regering hulle vrees. Dié wet sal korrupte politici teen openbare ondersoeke beskerm, en diegene straf wat dit sou durf waag om politici vir hul optrede toerekenbaar te hou.

Net so is daar tekens dat ons demokrasie volwasse word en dat politici vir die kiesers bang begin word.

Die amusante opskrif van ’n berig op die voorblad van The Sowetan vandeesweek het gelui: “ANC vrees Zille”. Ek is gewoond aan opskrifte wat lui: “ANC blameer Zille”, maar ek het myself afgevra: waar kom die “vrees” vandaan? Toe lees ek die berig oor die ANC se Nasionale Hoofraadsvergadering in Durban en Sekretaris-Generaal Gwede Mantashe se “Organisasie-oorsigverslag oor die Stand van die Organisasie”.

Mantashe het gepraat oor die “bedreiging van opposisiepartye wat koalisies skep”. Hy het die “opwaartse neiging in steun vir die DA” as ’n beduidende uitdaging vir die ANC se allesoorheersing beskou. Die belangrikste was dat hy ANC-strukture gesmeek het om “die versoeking te weerstaan om arrogant te wees” en “te dink dat ons mense se steun vanselfsprekend is”.

Dis ’n belangrike ontwikkeling. Nie weens daardie “ANC vrees Zille” nie. Selfs nie eens weens ’n moontlike “ANC vrees die DA” nie, maar omdat die ANC vir die kiesers begin bang word. Wat ’n waterskeiding in ons politiek! Hoe meer die ANC die kiesers vrees, hoe meer sal hy teen arrogansie waak, en hoe meer sal hy probeer om sy prestasie te verbeter. Dis hoe ’n demokrasie werk.

Die ANC het inderdaad baie rede om vir die kiesers bang te wees: hy het sedert die verkiesing van 2009 verskeie setels in tussenverkiesings afgestaan – agt van hulle aan die DA.

Ons weet dat toenemende steun vir die DA van ons prestasie as opposisie en as regering sal afhang. Soms moet ons taai besluite neem, maar wanneer ons dit doen, is dit omdat ons beleid moet werk om ’n konteks vir werkskepping, dienslewering, beter onderwys en gesondheidsorg te skep. Ons moet die Grondwet en die oppergesag van die reg te alle tye verdedig. Dít is die sake wat die kiesers moet gebruik om ’n politieke party te beoordeel en ’n keuse te maak.

Ons nader ’n keerpunt in ons politiek. Dit is wanneer al hoe meer mense besef dat die ANC Suid-Afrika in die steek gelaat het. Ons moet sorg dat ons ’n beter alternatief vir almal kan bied.

As Suid-Afrika dié demokratiese kultuur kan ontwikkel en ’n alternatief kan kies, sal ons ’n belangrike erfenis aan die volgende geslag bemaak. Dit sal die beste erfenis wees wat ons hulle kan gee.

En eendag, wanneer hulle op Erfenisdag om ’n braai staan, sal hulle dalk hulde bring aan die mense wat die mag van hul stem besef het, en dit gebruik het om die fondamente van ons demokrasie in te burger.

No comments:

Post a Comment

Comment here
Lewer hier kommentaar