Die Demokratiese Alliansie is verbind tot uitnemende dienslewering. Saam kan ons berge versit. The Democratic Alliance is committed to service excellence. Together we can move mountains. SAVE KOUGA. VOTE DA ON 18 MAY 2011

Click
here if you have any comments about the Democratic Alliance in the Jeffreys Bay region.

16 February, 2011

Ons stand van sake

Pres. Zuma het veel meer ontspanne en vol selfvertroue voorgekom toe hy [onlangs] sy Staatsrede gelewer het. Die toespraak self was beter as in vorige jare. Daar was dalk ’n gebrek aan ’n breë visie, maar daar was enkele belangrike – en welkome – beleidsaankondigings.

In ’n ontluikende demokrasie is dit baie belangrik dat ooreenstemming oor beleid op bepaalde terreine tussen die regering en die opposisie na vore moet tree. Dan draai die politieke debat om HOE resultate die beste bereik kan word.

Wat sommige beleidsterreine betref, beweeg ons in daardie rigting. Ons moet dié verwikkeling verwelkom. Die DA en ANC stem albei saam dat werkskeppende groei Suid-Afrika se belangrikste prioriteit is. Die vraag is: hoe kan ons dié doelwit die beste bereik?

Dit was bemoedigend om te hoor hoe die President verskeie van die DA se belangrike beleidsvoorstelle in sy toespraak aankondig. Dit toon dat jare se navorsing, debat en ingrepe deur die DA as opposisie ’n uitwerking begin toon.

Om verkiesings te wen, is selfs belangriker as om die regering se beleid uit die opposisiebanke te beïnvloed. Dit is wat die DA al hoe meer begin doen. Ons doen dit sodat ons Suid-Afrika se talle uitdagings doeltreffender uit die regeringsbanke kan aanspreek.

Soos verwag, het werkskepping die kern van die President se toespraak uitgemaak. Hy het bemoedigend na die rol van die private sektor in werkskepping verwys. Hy het ook voorgestel dat Khula, die Apex-fonds en die NOK se kleinsakefonds in ’n enkele eenheid saamgevoeg word, met die klem op steun aan kleinsake – ’n baie goeie plan. Dit lyk egter asof die meeste van sy beleidsvoorstelle bloot ou aankondigings met nuwe baadjies aan is.

Die “R9-miljard-fonds” lyk baie na die Jeug-loonsubsidie wat die President verlede jaar aangekondig het, maar moontlik met ’n nuwe etiket om vakbonde se teenstand te systap. Dis baie jammer dat ideologie weerstand teen dié idee binne die ANC-alliansie verhoed het dat die subsidie tot dusver ingestel kon word, maar dit is steeds ’n goeie plan. Dit maak al baie jare lank die kern van die DA se arbeidsbeleid uit.

Pres. Zuma het ook verwys na die “12i-Inkomstebelasting-toeslagaansporing” wat Rob Davies, die Minister van Handel en Nywerheid, in November verlede jaar aangekondig het. Dié aansporing beloop R20 miljard se belastingtoegewings om belegging, uitbreiding en opgraderings in die vervaardigingsektor aan te moedig. Ons het dit verwelkom toe dit aangekondig is, en verwelkom dit vandag steeds.

Indien dié planne reg in werking gestel sou word, sal dit sorg dat mense makliker werk kan kry, en meer werksgeleenthede skep.

Die probleem is dat dié beleid waarskynlik ondermyn gaan word deur ander beleid wat dit ten doel het om die ANC se alliansievennote te paai. Die omskepping van die staat in ’n arbeidsburo gaan werkskepping byvoorbeeld in die wiele ry omdat dit meer staatsbesteding vereis. Dit gaan feitlik seker in rompslomp en ondoeltreffendheid verstrengel raak.

As dit die voorbeeld van sommige ander ondernemings in staatsbesit volg, gaan dit ’n ramp wees. In plaas daarvan om nog ’n massiewe burokrasie op die been te bring, moet die President daarop konsentreer om Transnet en Telkom reg te ruk. Dit sal meer help om werk te skep as feitlik enige ander ingryping deur die staat.

Hoewel die President lippediens aan die rol van die private sektor in werkskepping bewys het, kom sommige van sy aankondigings neer op ’n onwelkome inmenging deur die staat in sektore waar ondernemings baie doeltreffender sal optree, meer belasting sal skep en meer werkers in diens sal neem. Die twee sprekendste voorbeelde is die skepping van ’n staat-mynmaatskappy en die opgradering van die Posbank in ’n volwaardige bank in staatsbesit. Myn- en bankwese is twee sektore wat gereguleer moet word om ekwiteit en ekonomiese doeltreffendheid te maksimaliseer, en waar die staat belasting en tantièmes moet invorder. Enige verdere staatsbetrokkenheid sal die private sektor opsy druk, ondoeltreffendheid laat posvat en ekonomiese waarde vernietig.

Pres. Zuma se woorde oor die onderwys was meer bemoedigend. Hy het verpligte geletterheid- en syfervaardigheidtoetse vir alle leerders in Graad 3, 6 en 9 aangekondig. Die DA het dié beleid reeds jare gelede in die Wes-Kaap ingestel toe hy ’n kort rukkie aan bewind was. Hy het ook melding gemaak van “onderwysers, handboeke en tyd”. Dit was my slagspreuk toe ek van 1999 tot 2001 provinsiale minister van onderwys was. Ek het dit sedertdien by talle Kabinet-lekgotlas herhaal, en dis bevredigend om te besef dat die President luister.

Daar blyk ’n gewilligheid deur die nasionale regering te wees om beleidskepping pragmaties te benader. As dit duidelik is dat beleid werk of op ’n gesonde idee gegrond is, moet dit aanvaar word, maak nie saak van watter party dit kom nie.

Daar is byvoorbeeld die DA se beleid oor maatskaplike ontwikkeling wat knap voor verlede jaar se verkiesing bekend gemaak is. Die beleid het onder meer voorgestel dat Kindersteuntoelaes toegeken word op voorwaarde dat die kind ingeënt is, genoeg kos het, en gereeld skool toe gaan. Dit is om te sorg dat die kinders die voordele van die toelaag regstreeks voel, en dat die kind mettertyd al hoe minder op die toelaag hoef te steun. In sy rede het die President iets soortgelyks belowe: “... die maatskaplike toelaes sal aan ekonomiese bedrywigheid en gemeenskapsontwikkeling gekoppel word, sodat korttermynbegunstigdes in die lang termyn selfonderhoudend kan word.”

Op die terrein van beleidsamevloeiing wat ek hierbo genoem het, moet die debat die klem laat val op verskillende strategieë om belangrike uitkomste te bewerkstellig. Dit moet boonop die klem veral op inwerkingstelling en lewering laat val.

Tydens die mees onlangse Kabinet-lekgotla het ek kans gekry om informeel met die President te gesels oor hoe belangrik dit is om te sorg dat die Wes-Kaap sy grondwetlike mandaat ten volle vervul sodat elke Suid-Afrikaner die gevolge van beleid kan vergelyk. Ek het aan die hand gedoen dat die ANC die Wes-Kaap met die DA aan bewind as ’n geleentheid vir Suid-Afrika se demokrasie moet beskou, en nie as ’n bedreiging nie. Met sy weergalose sjarme het hy saamgestem. Ek is van plan om te sorg dat hy by sy woord staan.

Volgende Vrydag gaan ek in die Provinsiale Rede aandag bestee aan die Wes-Kaap se plan om ons visie van ’n oop geleentheidsamelewing vir almal te bevorder. Deur saam met ander regeringsfere te werk, en in vennootskap met die private sektor en die burgery, gaan ons ons grondwetlike magte tot die maksimum inspan om ’n beter lewe vir almal te bewerkstellig.

Helen Zille

No comments:

Post a Comment

Comment here
Lewer hier kommentaar