Die Demokratiese Alliansie is verbind tot uitnemende dienslewering. Saam kan ons berge versit. The Democratic Alliance is committed to service excellence. Together we can move mountains. SAVE KOUGA. VOTE DA ON 18 MAY 2011

Click
here if you have any comments about the Democratic Alliance in the Jeffreys Bay region.

12 July, 2010

Helen se weeklikse nuusbrief - 12 Julie 2010

Die welvaartgaping


Ons kan nou beslis sê dat die welslae met die Wêreldbeker iets is waarop alle Suid-Afrikaners trots kan voel. Ons het bewys ons het die middele om ’n mega-gebeurtenis van wêreldgehalte aan te bied, en het die doemprofete wat wou hê ons moet misluk, op hul neuse laat kyk.


Buiten dat dit ons ’n blik gegee het op wat ons kan bereik deur gekoördineerde lewering met vaste spertye, het die Wêreldbeker ook die omvang van die sosio-ekonomiese ongelykhede in ons land beklemtoon.


Dit is nou die geleentheid om oor dié aangeleenthede na te dink. Dis gepas as ons vra: Hoe kan ’n land wat die infrastruktuur en stadionne van wêreldgehalte betyds vir die toernooi gelewer het, ook so baie armoede en ongelykheid hê? En belangriker: Wat kan ons aan die saak doen? Hoe kan ons die welvaartgaping só oorbrug dat dit die welvaart uitbrei, eerder as die armoede?


Daar is geen maklike of vinnige antwoorde op sulke vrae nie. In hierdie nuusbrief wil ek dus ’n algemene mistasting wat talle mense hier en elders oor maatskaplike ongelykheid verkondig, aan die kaak stel.


Die aanname wat in talle ontledings ingebed lê, is dat die “rykes” net ten koste van die “armes” baat. Dié ontleding is gegrond op die gebrekkige veronderstelling dat maatskaplike verhoudings ’n nulsom-spel is: as iemand vorder, moet iemand anders dit ontgeld. ’n Kommentator het onlangs gesê: “Ons sien om ons die diefstal van geleenthede vir armes sodat dié wat reeds oorgenoeg het, kan baat.”


Só ’n ontleding is ewe simplisties as gevaarlik.


Dit is simplisties omdat dit nie van basiese ekonomiese beginsels kennis neem nie. Ekonomiese geleenthede is nie begrens nie – een persoon se geleenthede beteken nie dat iemand anders sýne ontneem word nie. Inteendeel, ’n geleentheid wat deeglik aangegryp word, vermenigvuldig ander geleenthede gewoonlik. As dít nie waar was nie, sou ’n ekonomie nooit kon groei nie. Dit is vir álmal moontlik om voorspoed te ervaar.


Die gedagte dat een persoon se welslae van iemand anders se teenspoed afhanklik is, is gevaarlik omdat dit mense in slagoffers verander. Dit stroop hulle van persoonlike verantwoordelikheid en selfversorgendheid. Dit bring ook die moontlikheid van botsings met diegene wat na hul mening ten koste van hulle voorspoedig is, mee. En dit stel die visier in op mense wat hul geleenthede benut het om hul lewens te verbeter. Hulle word as skurke uitgebeeld wat net ten koste van ander kon gevorder het.


Ons moet van dié verkeerde ontleding wegbeweeg en maniere vind om armoede en ongelykheid te bestry wat nie meebring dat suksesvolle mense in sondebokke verander word nie. Dit is moontlik om geleenthede na armes uit te brei sonder om dié wat nie arm is nie, die skuld te gee en te vervreem, want dit verminder geleenthede vir die armes, in plaas van om meer geleenthede te skep. Ons kan net slaag as ons ons vaardigheids- en kapitaalpoel behou en uitbrei. Geen ontwikkelende land kan sonder ’n sterk (en al hoe groter) belastingbasis oorleef nie, veral nie een met só ’n uitgebreide welsynstelsel soos ons s’n nie.


Luidens ’n onlangse studie deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge ontvang 12,3 miljoen persone maatskaplike toelaes, wat deur 5,3 miljoen individuele betalers van belasting onderhou word. In sy kommentaar op die verhouding van ontvangers van maatskaplike toelaes vir elke belastingbetalers het die ekonoom Mike Schussler in Februarie tydens ’n ontbytvergadering ná die Begroting gesê: “Kyk na die afhanklikheidsverhouding – dit is drie mense vir elke belastingbetaler, en dit is onhoudbaar.”


Elke beleidskepper moet dit ten doel hê om die huidige afhanklikheidsverhouding om te keer. As ons wil oorleef en floreer, moet ons met ’n doelgerigte benadering tot werkskepping sorg vir meer belastingbetalers teenoor ontvangers van toelaes. Ek stem saam met diegene wat beklemtoon dat dit ons allergrootste nasionale prioriteit moet wees, en dat alle beleidskeuses daaraan gemeet moet word. Dit is mettertyd die enigste manier waarop ons die welvaartgaping nouer sal kan maak.


Die DA het ’n omvattende werkskeppingsbeleid, insluitende verreikende voorstelle om vaardigheidsopleiding uit te brei, ondernemerskap aan te moedig en meer buigsame arbeidswetgewing in te voer. Dit stel ook subsidies voor vir ondernemings wat jong mense wat die eerste keer begin werk, in diens neem. Dit was bemoedigend toe pres. Zuma vroeër vanjaar in sy staatsrede aangekondig het dat die regering só ’n loonsubsidie gaan instel, al het die ANC se bondgenoot, Cosatu, daarteen beswaar gemaak.


Ses maande later is dit duidelik dat die loonsubsidie (Pravin Gordhan, die Minister van Finansies, beraam dat dit teen 2013 sowat 500 000 nuwe werkgeleenthede vir jeugdiges sal skep) weens politiekery in die drieparty-alliansie doodgebore is. Dit is ’n tragedie, nie net vir die 3,1 miljoen werklose jong Suid-Afrikaners nie, maar vir almal wat dit met die vermindering van armoede en ongelykhede erns het.


Ek lees tans Greg Mills se uitstekende nuwe boek Why Africa is Poor – and what Africans can do about it. Hy verduidelik wat Afrikaners aan die saak kan doen. Hy betoog dat die vasteland nie arm is omdat die resep vir ekonomiese groei ontwykend is of towerkrag nodig is nie, want daar is trouens oorgenoeg suksesverhale wat Afrika-lande ter harte kan neem. Die vasteland is ook nie arm omdat dit van wêreldmarkte afgesonder word of omdat die mense nie hard werk, of omdat daar ’n gebrek aan natuurlike hulpbronne is nie.


Hy betoog dat die vasteland eerder as gevolg van swak beleidskeuses arm bly. “Beter keuses in belang van die breë publiek is baie dikwels nie in die leiers se persoonlike en baiekeer finansiële eiebelang nie.” Ons weet dat wanneer mense hul leiers nie by die stembus weens hul korrupsie of selfverrykende beleidskeuses straf nie, dan straf hul leiers húlle. Mills skryf:


“Die feit dat Afrika-leiers vir vernietigende besluite in eie belang ongestraf gelaat is, kan grootliks aan ’n betreklike gebrek aan demokrasie (of oorheersing deur ’n enkele party) toegeskryf word. Daar was min druk op leiers van onder af om beter keuses te maak.”


Die vermindering van armoede en ongelykheid sal ’n gesamentlike poging van ons almal verg – ryk en arm, swart en wit. Dit is inderdaad in almal se belang om dit te doen. Dit sal egter nie gebeur as ons ekonomiese geleenthede as ’n nulsom-spel beskou, of as ons toelaat dat gevestigde politieke belange die huidige stand van sake behou nie.


Dis tyd vir ’n nuwe benadering tot die uitbreiding van die ekonomie en die vermindering van die weeldegaping.

No comments:

Post a Comment

Comment here
Lewer hier kommentaar