Die Demokratiese Alliansie is verbind tot uitnemende dienslewering. Saam kan ons berge versit. The Democratic Alliance is committed to service excellence. Together we can move mountains. SAVE KOUGA. VOTE DA ON 18 MAY 2011

Click
here if you have any comments about the Democratic Alliance in the Jeffreys Bay region.

09 July, 2010

Verkwistende besteding – Uitspattige aankope van Wêreldbekerkaartjies - 9 Julie 2010

Lindiwe Mazibuko LP, die DA se nasionale woordvoerder, het ernstige kommer uitgespreek oor R110 miljoen aan openbare geld wat staatsdepartemente en -entiteite onlangs aan Wêreldbekerkaartjies bestee het. Dit was sodat ministers, adjunkministers, beamptes van departemente en ander “belanghebbers” kon gaan sokker kyk.


Mazibuko sê dit is ’n regstreekse skending van ’n opdrag van Pravin Gordhan, die Minister van Finansies, dat munisipaliteite nie die publiek se geld aan Wêreldbekerkaartjies mag bestee nie. Hy het ook aanbeveel dat nasionale en provinsiale staatsdepartemente dieselfde doen.


Mazibuko sê bo en behalwe die meer as R110 miljoen wat staatsdepartemente en -entiteite reeds aan Wêreldbekerkaartjies bestee het, het departemente en munisipaliteite waar die ANC in beheer is, onlangs ’n bykomende R17,3 miljoen aan onnodige luukshede bestee, wat die totaal op R127,3 te staan bring.


Onder meer behels dit R9,5 miljoen wat die Departement van Verdediging aan ’n pasgemaakte BBP-sitkamer by die Oliver Tambo Internasionale Lughawe vir die gebruik van Lindiwe Sisulu, die Minister van Verdediging, beamptes van die Departement en gaste bestee het. Voorts is daar die R3 miljoen wat bestee is aan ’n standbeeld van koning Shaka vir die nuwe Koning Shaka Internasionale Lughawe by Durban, wat verwyder is omdat Zweli Khize, die Premier van KwaZulu-Natal, en koning Goodwill Zwelethini nie daarvan gehou het nie, sê Mazibuko.


Die DA gaan aan pres. Jacob Zuma en Richard Baloyi, die Minister van Staatsdiens en Administrasie, skryf om te vra wanneer die Taakspan wat bykans ’n jaar gelede aangestel is om “staatsbesteding in die konteks van die ekonomiese ineenstorting” te bekyk, van plan is om ’n finale verslag in te dien, sê sy. Die versuim van die Presidensie en Taakspan om werklike stappe ten opsigte van verkwistende besteding te doen, toon ’n ernstige tekort aan politieke wil en leierskap, sê Mazibuko. Die President moet aan Suid-Afrika se mense verduidelik of hy van plan is om dié saak sterk aan te pak, en hoe, sê sy.


Die Wes-Kaap gee die toon aan wat besnoeiings aan besteding deur ministers betref.


In die volgende drie jaar het die DA-regering in die Wes-Kaap doeltreffendheidsbesparings ter waarde van R2,1 miljard in alle staatsdepartemente geïdentifiseer. Dit sal verseker dat meer geld bestee kan word waar dit werklik nodig is, en nie om die ego’s van ministers wat geheel en al met die lot van gewone burgers voeling verloor het, te streel nie, sê Mazibuko.

No comments:

Post a Comment

Comment here
Lewer hier kommentaar