Die Demokratiese Alliansie is verbind tot uitnemende dienslewering. Saam kan ons berge versit. The Democratic Alliance is committed to service excellence. Together we can move mountains. SAVE KOUGA. VOTE DA ON 18 MAY 2011

Click
here if you have any comments about the Democratic Alliance in the Jeffreys Bay region.

18 June, 2010

Die DA se hofgeding teen die beëindiging van Zuma se vervolging - 17 Junie 2010

Die Demokratiese Alliansie (DA) se hofgeding teen die beëindiging van die vervolging van Jacob Zuma op aanklagte van korrupsie is verlede week in die Noord-Gautengse Hoërhof aangehoor.

James Selfe LP, die Voorsitter van die DA se Federale Uitvoerende Gesag, sê die DA se saak gaan nie daarom of Jacob Zuma op die aanklagte skuldig of onskuldig is nie, maar of mnr. Mpshe, die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, se besluit om die vervolging te beëindig, korrek was.

Selfe sê die DA het die geding in die beste belange van gelykheid voor die reg aanhangig gemaak, en vra dat die Hof moet bevind dat dié besluit met die Grondwet bots, en dus ongeldig is.

Hy sê die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het geweldig baie voorbereiding en openbare hulpbronne aan die saak teen mnr. Zuma bestee, en sommiges het dit as die bes voorbereide vervolging in Suid-Afrika se regsgeskiedenis beskryf. Die geding is egter deur die destydse waarnemende NDOV, Mokotedi Mpshe, beëindig, en die publiek het die reg om te weet waarom, sê Selfe. Die DA glo die besluit is irrasioneel en arbitrêr en onwettig, en het die hof gevra om die besluit in hersiening te neem en tersyde te stel.

Ander aspekte waaroor debat gevoer is, was die status van die DA en die feit dat dit die DA se verantwoordelikheid as ’n politieke party is om in die publiek se beste belang op te tree, sê Selfe. Dit is ons plig om te sorg dat die Grondwet in ere gehou word en dat almal voor die reg gelyk is. Geen individu moet bevoordeel word weens die besondere pos wat dié persoon beklee nie.

Dié aansoek is aanvanklik in April 2009 ingedien, sê Selfe. Die verrigtinge is egter onnodig deur die opponerende partye vertraag, en daarom hoor die Hof die saak nou eers aan, voeg hy by.

Selfe het die NVG gekritiseer en gesê dit is ’n staatsorgaan wat in dié aangeleentheid neutraal behoort te wees. Die NVG moet die hof laat beslis of sy besluit reg was of nie. In plaas daarvan staan hy die vrystelling van die sogenaamde verminderde rekord sterk teë, dit is die dokumente wat mnr. Mpshe gebruik het om die besluit te neem om die vervolging te staak, sê hy.

Selfe sê laastens die NVG gebruik elke moontlike betoog om ’n eenvoudige en wettige versoek te stuit. Sodoende lyk dit of sy houding aan partydigheid grens. Die enigste gevolgtrekking is dat die NDOV se besluit inderdaad arbitrêr en irrasioneel was, en/of dat hy bloot iets wou wegsteek.

No comments:

Post a Comment

Comment here
Lewer hier kommentaar