Die Demokratiese Alliansie is verbind tot uitnemende dienslewering. Saam kan ons berge versit. The Democratic Alliance is committed to service excellence. Together we can move mountains. SAVE KOUGA. VOTE DA ON 18 MAY 2011

Click
here if you have any comments about the Democratic Alliance in the Jeffreys Bay region.

11 June, 2010

Helen se weeklikse nuusbrief, 11 Junie 2010

Wys die Wêreldbeker-klakouse 'n ding of twee

'n Beroemde sokker-afrigter het eens gesê: "Voetbal is geen saak van lewe en dood nie. Dis baie belangriker." Enigiemand wat vandeesweek se opwinding en patriotiese vertoon aanskou het, sou nogal met hom saamstem.

Die euforie gaan vandag na die hoogste rat oorskakel namate die openingseremonie en die eerste wedstryd van die dag nader kom. Dis oplaas met ons!

Namens die Demokratiese Alliansie wil ek Bafana Bafana graag die allerbeste vir vandag se wedstryd teen Mexiko toewens, en ook vir die volgende vier weke. En ek sê "vier weke" omdat ek dink ons het alles om enduit vol te hou.


Ons is 'n nasie wat deur hoop en optimisme aangevuur word. Ons is goed op dreef, en almal wat die wedstryd teen Denemarke dopgehou het, kon agterkom daar is nuwe selfvertroue onder die spelers. Carlos Parreira, die afrigter, sê die lawaai van die vuvuzelas is soos 'n twaalfde speler op die veld. Van wat ek oor die afgelope klompie dae gesien het, glo ek dit.


Ewe belangrik langs die veld is dat alle Suid-Afrikaners bankvas agter Bafana Bafana begin staan - iets wat haas ondenkbaar was vir dié wat, soos 'n Britse poniekoerant, voorspel het dat 'n rasse-oorlog in Suid-Afrika sou uitbreek. Hy het besoekers selfs gewaarsku teen bendes met kapmesse in die strate!


Dié eenheidsvertoon wat ons in die aanloop tot die Wêreldbeker aanskou het, is bemoedigend vir almal wat glo dat Suid-Afrika die potensiaal het om een nasie met een welvarende toekoms te word.
Ons het ook alle klakouse wat gesê het Suid-Afrika sal nooit 'n suksesvolle toernooi kan aanbied nie, met die kous oor die kop huis toe gestuur. Daar was oorgenoeg mense wat ons g'n kat se kans gegun het nie. Die meeste het ons land, ons vasteland en ons vermoëns maar sleg geken. Een buitelandse joernalis het gesê Egipte sou 'n beter gasheerland gewees het. "As die Egiptenare die piramides kon bou, kan hulle tog sekerlik die Wêreldbeker aanbied," het sy betoog.


Vrese dat Suid-Afrika die stadiums nie sou kon voltooi, geesdriftiges sou kon huisves en 'n vervoer-infrastruktuur van die vereiste standaard sou kon voorsien nie, het meegebring dat FIFA 'n "Plan B" beraam het wat tot 2007 sou behels dat Australië die toernooi erf. Dié kwellings het gou-gou verdamp toe ons verlede jaar 'n suksesvolle Konfederasie-beker aangebied het.


Daar is steeds mense wat heel tereg bekommerd is dat Suid-Afrika geen stoflike voordele uit die aanbieding van die toernooi sal haal nie. Ek het beslis só gevoel toe ek burgemeester van Kaapstad was. Ons het 'n studie oor "alternatiewe liggings" vir die stadium uitgevoer, maar oplaas het net Groenpunt aan FIFA se vereistes voldoen. Al keuse voor ons was of ons deel van die Wêreldbeker sou wees of nie. Klaarblyklik moes ons deel daarvan wees.


Aanvanklike finansiële modelle wat voorgelê is, en getoon het dat die Stad nog R1 miljard sou moes kry om die stadium in Groenpunt te bou - omtrent 25% van die Stad se totale begroting vir infrastruktuur - het alarmklokkies laat lui. Toe dit duidelik word dat die nasionale regering miljarde rande sou bewillig vir infrastruktuur en om die lughawe, die Kaapstad-stasie, kragopwekking, openbare geriewe en grootpaaie op te knap, was die besluit vanselfsprekend.


Talle mense gaan ná afloop van die toernooi vra of dit alles die moeite werd was. Dis 'n belangrike vraag wat deeglike ontleding regverdig. Die navorsing wat ek tot dusver onder oë gehad het, is baie bemoedigend. Volgens navorsing deur die ouditeursfirma Grant Thornton sal die Wêreldbeker R55,7 miljard tot Suid-Afrika se ekonomie bydra en 414 400 werkgeleenthede skep. Sowat 480 000 toeriste gaan tydens hul verblyf in Suid-Afrika sowat R8 miljard bestee. Voorbereidings vir die Wêreldbeker, en bouwerk aan infrastruktuur, het heelwat gedoen om die uitwerking van die internasionale finansiële ineenstorting in Suid-Afrika te verlig.


Ons sal natuurlik nog moet sien of die prognose van toekomstige voordele waar gaan blyk. Die nuwe infrastruktuur sal egter beslis 'n blywende ekonomiese erfenis agterlaat, en die grondslag vir groei tot almal se voordeel lê. Bowenal is die Wêreldbeker 'n ongekende geleentheid om die ware Suid-Afrika aan die wêreld te toon, nie die karikatuur-weergawe waaroor ons in buitelandse koerante lees nie. Dit het die potensiaal om in die jare vorentoe aan toerisme en buitelandse beleggings 'n hupstoot te gee.


Ons het gesien dat Suid-Afrikaners van alle rasse bankvas agter ons land kan staan. Ons het bewys dat ons alles het om 'n mega-gebeurtenis van wêreldgehalte soos dié aan te bied. Ons moet nou net lande soos Brasilië, Duitsland, Spanje en Engeland op die veld klop, en dan is ons die eerste Afrika-land wat die Wêreldbeker wen. Dit sal die klakouse waarlik op hul neus laat kyk.


Maar kom ons bepaal ons aandag eers op vanmiddag se wedstryd teen Mexiko. Geniet die sokker!

No comments:

Post a Comment

Comment here
Lewer hier kommentaar